Main Article Content
Op pad na optimale ondersteuning vir akademiese geletterdhede: Die strewe na beter belyning tussen teorie en praktyk
Abstract
Een van die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum se waardevolste bydraes sedert die ontstaan daarvan is ’n verbeterde belyning tussen teorie en praktyk vir die fasilitering van akademiese geletterdhede (AG). ’n Dekade gelede het die taalmatige ondersteuning wat die US aan veral eerstejaars verleen het, nog uit generiese modules bestaan waarvolgens studente tekste gelees en geproduseer het na gelang van dosentevoorkeur. Sedertdien het die literatuur ’n aansienlike verskuiwing in die rigting van ingebedde modules teweeg gebring. In hierdie sin beteken ingebed dat studente in elke vakgebied slegs met temas, tekste en genres te doen kry wat op die spesifieke vakgebied van toepassing is. Alhoewel Taalsentrumpersoneel aanvanklik traag was om hierdie verskuiwing te aktualiseer, meestal weens die ekonomie van skaal, het hulle die afgelope paar jaar vakspesifieke en pasklaar kursusse vir studente in die meeste US-fakulteite ontwikkel en gefasiliteer. Hierdie soort herkurrikulering word nie altyd na waarde geskat nie aangesien die verskil in impak moeilik is om kwantitatief te meet. In die meeste gevalle moet Taalsentrumpersoneel ook met personeel van US-fakulteite saamwerk wat neig om vaardighede in AG in ’n laerstatuskategorie (sagte vaardighede) as wetenskapvaardighede (harde vaardighede) te plaas. Hierdie studie ondersoek een so ’n geval van samewerking tussen die Taalsentrum en die Departement Chemie en Polimeerwetenskap aan die US, die sogenaamde Pet Ionic Compound (PIC)-projek. Innovasiefondssteun is verkry ten einde die uitkomste van AG en dié van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap in die vakgebied chemie op so ’n manier te integreer dat optimale sukses vir studente in die verlengde graadprogram nagestreef kon word. Hierdie artikel doen verslag oor die impak van sodanige samewerking vir die afgelope drie iterasies van die projek en poog om ’n bydrae te lewer tot die literatuur oor die uitwerking van teoretiese begronding op die praktyk van AG. Verskillende studente- en dosentetekste is deur middel van oop kodering ontleed om die impak van hierdie projek op studente se waargenome kennis van chemie, asook hulle ontwikkeling met betrekking tot AG kwalitatief te meet. Die artikel probeer verder ekspliseer dat alhoewel hierdie soort samewerking tyd en inspanning verg, dit die moeite werd geag behoort te word indien studente- en dosentesukses daardeur geoptimaliseer kan word.
Trefwoorde: akademiese geletterdhede, chemie, ingebed, samewerking, teoretiese ontwikkeling