Main Article Content
Die kategorisering van onderskikkers: enkele kenmerke van ‘dat'-samestellings
Abstract
Abstract In hierdie artikel word sintaktiese en semantiese kenmerke van 'n groep onderskikkers, nl. samestellings met ‘-dat' beskryf. Dit blyk dat die meeste van die samestellings 'n voorsetsel as vormelement bevat, nl. ‘voordat', ‘nadat', ‘vandat', ‘totdat', ‘metdat', ‘omdat', ‘oordat', ‘deurdat', ‘indat' en ‘opdat', terwyl sommige 'n bywoord bevat, nl. ‘eerdat', ‘noudat', ‘sodat' en ‘hoedat'. Die ondersoek is korpusgebaseerd in ooreenstemming met die aannames van die kognitiewe grammatika. Die korpus bestaan uit 557 Afrikaanse dokumente wat via die Internet verkry is. Altesaam 9 177 gevalle van ‘dat' en 1 909 gevalle van ‘dat'-samestellings kom in die korpus voor. Drie-en-sestig voorbeelde uit die korpus word in die teks aangehaal. Die onderskikker ‘indat' kom ses keer in die korpus voor, terwyl dit nog nie in woordeboeke opgeneem is nie. Dit bewys dat die onderskikkers 'n oop klas is waar nuwe lede bygevoeg kan word. Die grootste ooreenkoms in sintaktiese optrede is dat al die onderskikkers met ‘-dat' dieselfde sinsvolgordepatrone tot gevolg het. Die groep ‘dat'-samestellings is egter nie homogeen ten opsigte van die soort onderskikking nie. Daar kan twee subkategorieë op grond van die verskil tussen hipotaktiese verbinding en inlywing onderskei word. Hipotaktiese verbinding kom by al die ‘dat'-samestellings, behalwe ‘hoedat' voor, terwyl inlywing as sinsdeel by ‘hoedat' en enkele gebruike van ‘oordat' waargeneem is. By inlywing speel die semantiese struktuur van die hoofwerkwoord 'n rol. 'n Verskeidenheid
betekenisnuanses kan deur verbindende ‘dat'-samestellings uitgedruk word. Dit strek van min of meer letterlike betekenisse van die betrokke voorsetsels en bywoorde tot by kousale verhoudings wat in argumentasie gebruik word.
Southern African Linguistics and Applied Language Studies 2006, 24(1): 7–22