Main Article Content
'n Kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodel vir die Afrikaanse grammatika
Abstract
In hierdie artikel word gedetailleerde aspekte van 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodel vir die Afrikaanse grammatika uiteengesit, met die doel om die agenda vas te stel en te omskryf waarvolgens Afrikaanse morfologiese (en ander) konstruksies beskryf kan word. Konstrukte en terme uit die kognitiewe grammatika wat nodig is vir die beskrywing van sodanige grammatikale konstruksies word geëkspliseer, en aan die hand van voorbeelde uit die Afrikaanse morfologie geïllustreer. Daar word aangetoon dat, met betrekking tot komposisie, die vraag ‘Hoe word 'n bepaalde konstruksie gevorm?' beantwoord moet word, en wel aan die hand van ooreenkoms, konstruksieprofilering, konseptuele en fonologiese afhanklikheid en onafhanklikheid, en konstituering. Daar word verder geargumenteer dat die essensiële vraag wat beantwoord moet word met betrekking tot kategorisering, soos volg gestel kan word: ‘Hoe lyk die kategoriseringsnetwerk van die konstruksie?'. Vir dié doel moet 'n kategoriseringsnetwerk vir 'n bepaalde konstruksie gepostuleer word. Daarna word gewys dat die vraag ‘Kan 'n konstruksieskema of subkonstruksieskemas geëkstraheer word uit die kategoriseringsnetwerk?' beantwoord moet word, en wel aan die hand van die algemeenheid en produktiwiteit van die konstruksieskema. Met betrekking tot vestiging word gewys dat gevra moet word ‘Tot watter mate is die konstruksieskema gevestig?', en dan beantwoord moet word aan die hand van twee kriteria, te wete sentraliteit en linguistiese belangrikheid. Die artikel word afgesluit met die formulering van 'n werkstrategie, wat ook gesien kan word as 'n programmatiese, ‘stap-vir-stap' model vir die beskrywing van grammatikale konstruksies.
Southern African Linguistics and Applied Language Studies 2005, 23(2): 125–137