Main Article Content
Teoretiese vooronderstellings van 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodel vir die Afrikaanse grammatika
Abstract
In hierdie artikel word drie teoretiese vooronderstellings van 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodel vir die grammatika geïdentifiseer, te wete dat taal integraal deel is van menslike kognisie, dat die grammatika inherent betekenisvol is, en dat werklike taalgebruiksdata sentraal staan in taalkundige beskrywings en verklarings. Hierdie drie vooronderstellings kan beskou word as die mees basiese vooronderstellings waaruit alle ander aannames, perspektiewe en uitgangspunte van kognitiewe gebruiksgebaseerde modelle spruit. Daar word aangetoon dat kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodelle 'kognitief' is in die sin dat taalstruktuur sover moontlik afgelei word van meer algemene psigologiese vermoëns (soos byvoorbeeld simbolisering, komposisie, kategorisering, skematisering en vestiging), terwyl dit 'gebruiksgebaseerd' is in soverre daar 'n beskrywing gegee word van die taalsisteem wat voortspruit uit herhaalde taalgebruiksepisodes. Op grond van die feit dat taalstruktuur as simbolies beskou word, kan ons sê dat sodanige beskrywingsmodelle daartoe in staat moet wees om 'n volledige beskrywing van die konseptuele invoer van grammatikale konstruksies te kan gee. Hierdie beskrywingsmodelle kan op grond van die metodologiese uitgangspunte verder gekarakteriseer word as 'n maksimalistiese, nie-beperkende, 'bottom-up' beskrywingsmodel, waarmee grammatikale konstruksies van 'n bepaalde taal beskryf en verklaar kan word.
(S/ern Af Linguistics & Applied Language Stud: 2002 20(4): 303-323)