Hierdie artikel beskou die rol van woordeboekwerkboeke in die vaardigheidsopvoeding van gebruikers in Afrikaans. Woordeboekwerkboeke word gewoonlik op 'n spesifieke skool- of aanleerderwoordeboek gerig en sluit sodoende by die opvoedkundige leksikografie aan. Die hoofdoel van werkboeke behoort dus 'n opvoedkundige een te wees. Alhoewel die opvoedkundige leksikografie meer belangstelling in Suid-Afrika wek, word weinig aandag gegee aan die belangrike rol van woordeboekwerkboeke. Woordeboekwerkboeke behoort baie gebruikersgerig te wees, aangesien dit vir spesifieke teikengebruikers saam met die gebruik van 'n spesifieke woordeboek opgestel word. Die doel van werkboeke word in hierdie artikel geïdentifiseer deur verskeie werkboeke in die Afrikaanse konteks te analiseer. By nadere ondersoek blyk dit dat werkboeke diverse doelstellings het en ook diverse inhoude bevat. Werkboeke is daarop gemik om teikengebruikers meer woordeboekgeletterd te maak, d.w.s. om woordeboeke sinvol te kan gebruik en inligting daaruit suksesvol te ontsluit. Die wyse waarop inligting in werkboeke aangebied en dus oorgedra word, reflekteer sekere onderrigbenaderings in taal en hoe dit gestalte kan vind in werkboeke. Wanneer 'n onderrigbenadering suksesvol toegepas word, is die verwagting dat gebruikers se vaardighede sal verbeter. Gevolglik word daar verwys na die ontwikkeling van sekere vaardighede.
Sleutelwoorde: afrikaanse opvoedkundige leksikografie, skoolwoordeboeke, aanleerderswoordeboeke, woordeboekwerkboeke, taalleeronderrig, taalleeronderrigbenaderings, teksgebaseerde benadering, kommunikatiewe benadering, leerdergerigte onderrigbenadering, induktiewe onderrigmetode, konstruktivisme, onderrigleeraktiwiteite, leerders se woordeboekvaardighede, onderwyser, leksikograaf, uitgewer