Main Article Content
Equality or justice? Section 9 of the Constitution revisited - Part II
Abstract
Gelykheid of geregtigheid? Artikel 9 van die Grondwet: 'n heroorweging - Deel II
Die doel van hierdie artikel is om artikel 9 van die Grondwet onder die loep te neem en vas te stel of die Grondwet gelykheid en regverdigheid waarborg. Die Grondwet bepaal dat almal gelyk is voor die reg en dus aanspraak kan maak op die gelyke beskerming en voordele wat die reg bied. Dit omskryf gelykheid as 'n begrip wat die volle en gelyke benutting van alle regte en vryhede insluit. Die Grondwet verbied ook onregverdige diskriminasie teenoor alle persone op een of meer van die gelyste gronde. Hierdie voorsiening beoog om 'n egalistiese samelewing, waarin almal menswaardig behandel word as menslike wesens met waardigheid en eiewaarde, daar te stel. Dit kan egter nie noodwendig vertolk word as bedoelende dat daar in alle opsigte algehele gelykheid tussen alle mense, wat ookal hul omstandighede, sal bestaan nie - of dat alle mense noodwendig in alle opsigte dieselfde regte ten volle sal geniet nie. Die Grondwetlike Hof vertolk hierdie bepaling as geregtigheid en regverdigheid eerder as volle gelykwaardigheid. Daar word aanvaar dat differensiasie in 'n demokratiese samelewing toelaatbaar en selfs nodig is, maar toelaatbare differensiasie word omskep in ontoelaatbare (en gevolglik onregverdige diskriminasie) wanneer 'n persoon se waardigheid geskend word. Alhoewel daar kritiek bestaan dat so 'n benadering as eng beskou kan word deurdat dit 'n klemverskuiwing vanaf gelykheid na waardigheid bewerkstellig, demonstreer dit tog dat daar 'n noue verband tussen gelykheid en waardigheid bestaan.
(Journal for Juridical Science: 2002 27(2): 15-32)