Main Article Content
Die verband tussen persoonlikheid en stemhiperfunksie by 'n bepaalde groep sprekers: research
Abstract
Persone wat hulle stemme in die uitoefen van hulle beroep gebruik, is soms geneig tot stemmisbruik en stemuitputting. Stemmisbruik, ook genoem stemhiperfunksie, kan aanleiding gee tot stembandnodules wat sjirurgies verwyder moet word. Ten einde meer effektiewe diens te lewer in hierdie gevalle, word navorsers en klinici genoodsaak om die oorsaaklike faktore vanuit 'n wye perspektief te benader. Vanweë die noue verband tussen persoonlikheid en stem is dit belangrik om ondersoek in te stel na persoonlikheidsfaktore wat 'n invloed mag hê op die ontstaan van stemhiperfunksie. Die doel van hierdie studie was om te bepaal of daar ooreenstemmende persoonlikheidseienskappe voorkom by 'n groep sprekers met nodules en om te bepaal hoe die groep manifesteer op elke faktorskaal van die 16PF persoonlikheidsvraelys. 'n Groep van twaalf damestudente wat potensiële professionele stemgebruikers is, is ondersoek. Die groep het verhoogde vlakke van ekstroversie getoon wat onder andere meebring dat hulle sosiaal aggressief en spraaksaam is en dit moeilik vind om hulle uitgelatenheid te kontroleer tydens 'n gesprek. Hierdie persoonlikheidseienskappe kan lei tot stemhiperfunksie en dit blyk dat hierdie persone se ekstroversiewe geaardhede omgeskakel of oorgedra word na spraakgedrag wat lei tot stemhiperfunksie. Die implikasies vir die tradisionele span klinici wat betrokke is by die hantering van stemhiperfunksie word bespreek.
(Health SA Gesondheid : interdisciplinary research journal: 2002 7(4): 57-69)