Main Article Content
Die kennis van adolessente in 'n Gautengse skool rakende MIV / VIGS: research
Abstract
MIV / VIGS (Menslike Immuniteitsgebreksvirus / Verworwe Immuniteitsgebreksindroom) is 'n pandemie asook 'n internasionale probleem. Sedert 1998 was MIV / VIGS verantwoordelik vir 11, 3 miljoen sterftes. In Suid-Afrika is ongeveer 4, 2 miljoen mense met MIV / VIGS geïnfekteer en daar is ongeveer 1500 - 1800 nuwe gevalle jaarliks. Volgens statistiese analise word bereken dat teen 2010 ses miljoen van die oorlewende populasie met MIV / VIGS geïnfekteer sal wees. Die groep onder wie die meeste nuwe infeksies plaasvind, is persone tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar. Dit is belangrik dat ondersoek ingestel moet word na die oorsaak vir die verhoogde koers van infeksies in hierdie lewensfase. Die vraag wat ontstaan is of adolessente werklik kennis het oor MIV / VIGS, die gevolge daarvan, asook maatreëls wat bestaan om MIV / VIGS te voorkom. Die doel van die studie is om die adolessente aan 'n skool in Gauteng se kennis rakende MIV / VIGS te verken en te beskryf en om aanbevelings te doen om geïdentifiseerde leemtes in adolessente se kennis aan te vul en klem te lê op kennis wat versterk moet word. Vir die doeleindes van die studie is gebruik gemaak van 'n verkennende, beskrywende en kontekstuele studie. Die adolessente verbonde aan 'n skool in Gauteng se kennis rakende MIV / VIGS is verken met behulp van 'n vraelys as data-insamelingsinstrument. Die vraelys het uit vyf oop vrae bestaan en is deur adolessente binne klaskamers tydens skoolure voltooi. Die algemene bevindinge toon dat adolessente wel oor 'n redelike goeie kennis rakende MIV / VIGS beskik. Leemtes en wanpersepsies wat geïdentifiseer is, is beskryf en na aanleiding van die bevindinge is aanbevelings beskryf ten einde geïdentifiseerde leemtes in adolessente se kennis aan te vul en klem te lê op kennis wat versterk moet word.
(Health SA Gesondheid : interdisciplinary research journal: 2002 7(4): 3-13)